Die doop is die verseëling van Christus se Koningskap oor Sy volk

  • Diens: 2014-02-09 ()
  • Prediker:
  • Skriflesing: Matteus 28:1-20
  • Teksvers: Matteus 28:18-20; HK Sondag 26 & 27

Preekskets

Hoe is daar nie al gestry oor die doop nie, groot of klein, onderdompel of besprinkel, so vinnig as moontlik of moet daar eers gewag word vir ‘n geskikte Sondag dat die familie by kan wees? Veronderstel die doop wedergeboorte of is dit ‘n belofte van wedergeboorte, is die doop ‘n teken van bekering of ‘n daad van God, is dit iets wat ek besluit of is dit iets wat God besluit?

Van die vroegste tye af was daar al hewige verskille en geskille oor die doop. Soveel so dat daar al kerke is wat vandag sê: maak van die doop wat jy wil, groot of klein, maak soos jy self goeddink, solank daar net rus en vrede kan wees. Hulle sê: die Bybel is in elke geval nie duidelik oor die doop nie!

Mense sê so omdat die Bybel nie ‘n uiteensetting van die leer van die doop bevat nie. Die leer van die doop veronderstel ‘n belydenis waarin die Bybel in sy geheel verstaan en geglo moet word. Ons moet dus al die gedeeltes wat betrekking het op die doop saamvat in ‘n belydenis. Hierdie belydenis word dan die leer van die kerk. Vanoggend wil ons na een so ‘n gedeelte kyk om ons belydenis rakende die doop te belig.