Eet, meet, laat weet

Preekskets

Preekskets

Openbaring 10 en 11 vertel dat God deur Sy kerk niks gaan ontsien om die evangelie na die wêreld te bring nie. Hierdie uitreik na die wêreld gebeur onder die aanvoering van ‘n sterk engel met ‘n oop boekie van God (Openb.10:1-2).

1. Eet

Die opdrag wat Johannes kry om die boek te eet en die gevolge daarvan, sluit aan by Esegiël 3:3,14 waar Esegiël die boekrol moet eet wat soet soos heuning is, maar hom daarna siek laat voel. Die inneem van die boek is vir Johannes soet – om die evangelie te hoor is wonderlik bevrydend – ‘n nuwe lewe met God. Maar wanneer dit in die maag kom en in jou sisteem opgeneem word; wanneer jou lewe daarvan vol en daardeur verander word; bring dit ook moeilikheid. Wanneer die evangelie ingeneem word – deel van jou lewe word; ervaar jy die soetheid van ‘n ewige verhouding met God en ‘n sinvolle lewe; maar ook lyding.

2. Meet

Johannes kry in Openbaring 11:1,2 opdrag om net sekere dele van die tempel te meet. Hierdie is ‘n baie belangrike meet. Hiervolgens word bepaal of jy deel het aan God, of nie. Johannes moet net die binneste deel meet – die wat erns maak met die Woord van God. Baie sal in die heilige stad, selfs in die voorhof van die tempel wees, maar nie die Here regtig ken nie. Al kry gelowiges swaar moet hul weet – hul is gemeet. Ons is deel van dié vir wie ons Here Sy lewe afgelê het.

3. Laat weet

Die twee getuies in Openbaring 11:3 en verder, simboliseer die strydende kerk wat hul getuienis lewer vanaf hemelvaart en Pinkster tot vandag en verder. Dit beklemtoon die belangrikste opdrag aan die kerk – om uit te reik. Voor die wederkoms sal gebeur moet die evangelie eers oor die hele wêreld versprei.