Die beloftes wat Jesus met elke saligspreuk gee, maak dit duidelik waarom Hy telkens kan begin met: Geseënd…

Preekskets

Waar ons die saligspreking een vir een bekyk het, kyk ons vandag na wat Jesus telkens belowe. Hy begin en sluit die gedeelte met dieselfde belofte af (vers 3 & 10): .... want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel." Al gee Matteus, wat eerstens vir Jode geskryf het, Jesus se woorde só weer, bedoel hy dieselfde as wanneer Lukas praat van "die koninkryk van God" (Luk. 6:20).

"Die koninkryk van God" gaan in die eerste plek daaroor dat God Koning is. Die mensdom het egter met die sondeval in opstand gekom teen God. Christus is egter besig om God se Koninkryk intussen weer te kom vestig deur o.a. rebelle in gehoorsame burgers te verander. Die koninkryk van God "behoort" aan hierdie mense deurdat hulle deur God se genade al besef dat God regeer en dat die lewe oor Hom gaan. En God versorg en beskerm hulle. Hulle is waarlik geséënd!

Jesus vervolg egter deur te sê dat mense wat hulle eie skuld en magteloosheid as sondaars voor God erken (en Koninkryksburgers geword het) oor ander opstandelinge se sonde treur.  Met koninklike gesag verseker Jesus ons dan: "4 Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word." God sal die regte aandag aan hulle nood gee (sien Ps. 51:17,19). Iemand wie se lewe deur God se genade omgekeer is, word self genaakbaar oftewel sagmoedig (vers 5). Jesus belowe die nuwe aarde aan dié wat alles vir God en sy koninkryk in die stryd werp. Dié dat ware Christene gewoonlik ook heeltemal bereid is om persoonlike skade hier op aarde te ly en beledig te word as dit t.w.v.  die Here se koninkryk is. Koninkryksburgers smag daarna dat alles wat so verskriklike verkeerd is, reg sal wees. Hulle weet ook dat as God dit nie alreeds in hierdie lewe regmaak nie, daar ʼn dag sal kom waarop Hy finaal sal afreken: "6 Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word."

Koninkryksburgers wat opgehou het om vervaard aan hulle eie koninkrykies te bou, is dan ook mense wie se oë oopgaan vir ander mense se nood - veral vir dié wat onder onreg ly. En wat belowe Jesus hier? Selfs méér van God se genade vir jou: "7 Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word."

Jesus sê vervolgens: "8 Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien." Om rein van hart te wees beteken dat jy geen bose gedagtes in jou hart koester nie. Geen sondaar kan sien en bly lewe nie. Maar as koninkryksburgers wat deur Jesus se bloed innerlik skoongewas is, sal ons God eendag sonder vrees kan sien. Iemand wat geen boosheid in hom of haar koester nie, lewe nie maar net in vrede met God nie, maar wil ook hê dat alle mense die vrede van Jesus Christus sal ken.  Dié dat Jesus vervolg: "9 Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word." Elke Koninkryksburger kan die belofte van Rom. 8:17,18 toe-eien.

Maar hoewel Koninkryksburgers wil hê dat alle mense in vrede met God en mekaar moet lewe, vertel die Bybel dat die mense van die sondige wêreld God en sý kinders haat.  Jesus waarsku: "’n Leerling moet tevrede wees as dit met hom gaan soos met sy leermeester..." As mense lelik met ons maak terwyl ons niks gedoen het om dit verdien nie, moet ons nie dink dat God ons in die steek gelaat het nie. Daarom bevestig Jesus die belofte waarmee Hy begin het: "10 Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel."

Watter wonderlike beloftes gee die Here nie vir die burgers van sy koninkryk nie - dat Hy ons as Koninkryksburgers aanvaar, dat Hy ons vertroos, dat Hy die nuwe aarde vir ons gereed maak, dat reg en geregtigheid uiteindelik sal geskied, dat God barmhartig met ons sal werk, dat ons Hom sal sien en uit eindelik as sy kinders soos Hy sal wees.

Hoe kan ons dan anders as om - soos Jesus in die enigste direkte opdrag wat Hy in die gedeelte vir ons gee - bly te wees: Vers 12: "Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel."   Elkeen wat is soos wat Jesus hier sê, tel inderdaad onder die geseëndes. Amen.