Die Here se vergewing wek vrymoedigheid om te antwoord op sy roeping

  • Diens: 2016-05-15 ()
  • Prediker:
  • Skriflesing: Jesaja 6:1-13
  • Teksvers: Jesaja 6:6-8

Preekskets

Die Here se heerlikheid verskrik die mens. Ons lees in Openbaring dat die hele aarde sal wegvlug voor God se heerlikheid wanneer Hy verskyn om die wêreld te oordeel. Hier in Jesaja verskyn die HERE ook in groot heerlikheid. Die hele gesig van Jesaja getuig van die magtige heerlikheid van die HERE. Jesaja se antwoord is: Wee my! Hy sê daardeur dat dit klaar is met hom. Hy is vol sonde en nou het hy die HERE van die leërskare gesien. God se heerlikheid het hom tot die dood toe verskrik!

Dis dan dat ons lees van die engel wat sy lippe met ‘n vuurkool aanraak en dan sê: jou sonde is vergewe. Dadelik het Jesaja die HERE se stem gehoor wat iemand wil stuur. Die merkwaardige is dat Jesaja dan kan antwoord: hier is ek, stuur my! Waar kom Jesaja se vrymoedigheid vandaan? Hy is vergewe! Die Here roep sy kinders wat vergewe is. Wanneer jy die HERE se roepstem hoor, mag jy so antwoord soos Jesaja? Kan jy so antwoord? Mag die Here deur sy Woord vanaand vir ons openbaar waarom elkeen van sy kinders so moet antwoord.