Opgeroep om in Jesus Christus se hofsaak te getuig

Preekskets

Ons in Suid Afrika het al amper gewoond geraak aan opspraakwekkende hofsake. Op die oomblik is daar weer een in Pretoria aan die gang. Jy sal saamstem dat dit een ding is om so van buite as toeskouer te kyk wat gebeur - maar dat dit beslis 'n ander storie is as jyself, as aangeklaagde of getuie deel is van daardie hofsaak. Nou die skokkende nuus! Jy is deel van die grootste hofsaak wat daar ooit op aarde sal wees. Ja, hierdie hofsaak is op die oomblik in die hele wêreld aan die gang. Ons lees van die begin daarvan in Johannes 18. As jy mooi gaan fokus op vers 21 sal jy sien dat Jesus Christus reeds Sy getuies geroep het om vir Hom in hierdie hofsaak te getuig. Die eerste getuies het dan sommer ook dadelik hulle getuienis gegee. Na Sy opstanding uit die dood het Jesus Christus Sy oproep tot getuienis weer herhaal en aan Sy kerk op aarde toevertrou. Een van die eerste getuies (wat aan die begin baie drooggemaak het) het die geleentheid gehad om weer te getuig (sien Handelinge 4). Deur die genade van die Here het die Heilige Gees Sy hele menswees verander en kon hy reg getuig. Vir ons as Christene is die tyd vir getuie-wees is hier waar ons vandag en more leef en werk. Voordat Jesus Christus weer kom op die wolke van die hemel moet elke mens besluit oor wat hulle in hierdie hofsaak gaan getuig. Aan die einde sal God as Regter die finale uitspraak gee.