Geloof verdryf die onsekerheid van vrees

Preekskets

Die slapende Christus. Waarom slaap die Here in die boot terwyl die dissipels radeloos van angs is? Hoe goed het hulle nie die Psalm geken nie: Kyk, die Bewaker van Israel sluimer of slaap nie. En tog, daar slaap die Bewaker van Israel. Sonder die oë van die geloof sou hulle onmoontlik die slapende man agter in die skuit kon eien as die Bewaker van Israel. Daarom is hulle so bang! Wanneer Christus Homself egter openbaar as ons Middelaar wat waarlik God en mens is maak die vrees plek vir geloof. Dan maak die onsekerheid plek vir ’n onwrikbare sekerheid, sodat Petrus uiteindelik kan bely: U is die Christus, die Seun van die lewende God. Wie vashou aan die openbaring van Jesus Christus se geloof word versterk en se vrees word verdryf. Hierdie geloof gaan al ons vrese en onsekerhede te bowe! Dan kan ons in hierdie wêreld lewe as mense vol van geloof en daarom ook sonder vrees!