Ons geloof gaan nie om “waarom” of “daarom” nie, maar “nogtans”!

  • Diens: 2017-02-26 ()
  • Prediker:
  • Skriflesing: Habakuk 1:1-4; 2:1-4; 3:17-19
  • Teksvers: Habakuk 2:4; 3:17-19

Preekskets

Habakuk 3 is sekerlik een van die treffendste en bekendste gedeeltes in die Ou Testament. Hier sê die profeet Habakuk dat al verloor hy alles, hynogtans in die Here sal jubel.

Maar ons moet besef: hierdie pragtige lied het nie uit die lig geval nie. Daar is twee en ʼn halwe hoofstukke vóór ons uitkom by hierdie lied. In die eerste hoofstukke van Habakuk openbaar die Here:

ONS "WAAROMS" WORD NIE ALTYD MET "DAAROMS" BEANTWOORD NIE

Elkeen van ons het verskeie waarom-vrae in ons lewens. "Waarom moes dit of dat in my lewe gebeur het?" Die profeet Habakuk het ook met waarom-vrae geworstel. Maar in die eerste hoofstukke van die boek hoor ons dat die Here nie sy waarom-vrae beantwoord nie. Aan die een kant hoef Hy nie; Hy is die Here. Aan die ander kant antwoord Hy soms nie ons waarom-vrae nie sodat ons kan leer om volkome op Hom te vertrou. Dit is presies wat die Here vir Habakuk sê: "Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe" (Hab 2:4). Ons moet deur die geloof lewe. Ons moet vertrou dat God sy beloftes sal hou.

"NOGTANS" IS OM OP DIE HERE TE VERTROU

Deur die kragtige werking van die Heilige Gees in ons lewens is dit moontlik om te bely dat ons ten spyte van omstandighede in die Here sal jubel en juig. Want ons blydskap is nie geleë in enige eksterne of interne omstandighede nie. Ons blydskap is geleë in 'n Persoon. Ons blydskap is geleë in God self.

Sekerlik die grootste belydenis van "nogtans" hoor ons uit ons Here Jesus se mond. Daar in die tuin van Getsemane, die aand voor sy kruisiging, bid Hy: "My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil" (Matt 26:39). En die Vader het hierdie gebed verhoor. Hy het "nogtans" nie gedoen wat sy Seun gebid het nie. Hy het sy Seun oorgelewer om vir ons sonde aan die kruis te sterf. En ons dank God daarvoor. Want deur ons verbondenheid met Christus Jesus is ons nou kinders van God.