Liefde aan die kruis

  • Diens: 2015-02-22 ()
  • Prediker:
  • Skriflesing: Johannes 19:14-31 & Lukas 2:34-35
  • Teksvers: Johannes 19:26-27

Preekskets

Die Jode met hulle raadslede het Hom uitgelag. Die soldate van die keiser het Hom gespot – hulle wat Hom eers geblinddoek het, geslaan het, gespoeg het. Vasgekap aan die kruis, in geweldige pyn, reën venyn en haat op Hom neer. En dan ‘n sinnetjie in die Bybel – ‘n sinnetjie wat jou in jou hart ruk (Joh.19:25): “By die kruis van Jesus het ook nog Sy moeder ... gestaan”.
Hoe verskriklik is dit om ‘n kind aan die dood te moet afstaan. Hoe verskriklik wreed is dit om te sien hoe hulle jou Kind stadig en wreedaardig vermoor.
Hartseer vreugde
Van die begin af het hierdie Kind van haar, vir Maria hartseer vreugde gebring. Eers die skok van ‘n engel wat aan haar verskyn met die boodskap dat sy (toe nog ongetroud en ‘n maagd) ‘n Kind gaan kry. Tog reageer sy gelowig: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het” (Luk.1:38). Toe die gryse Simeon die baba Jesus in sy arms neem en God dank dat hy die Messias gesien het, draai hy na Maria en sê “.. ’n swaard sal deur jou siel gaan”. Vreugde en hartseer in een. Soos baie gelowiges oor eeue en vandag nog sou ervaar.
‘n Swaard deur jou siel
Hoe waar het hierdie woorde nie geword nie, waar Maria by die wrede kruis van haar Seun staan – Hy wat ook haar Verlosser is. Hoe moes sy wat met ‘n ma se oë die lyding van haar kind beleef, verstaan dat hier voor haar ‘n worstelstryd tussen hemel en hel aan die gang is – ‘n stryd sodat sy en ons dit nooit hoef deur te gaan nie, maar die hemelse lewe met God ewig as vrye guns sal kan ontvang. Met hierdie sekerheid sou gelowiges voortaan in vrede kon sterf – selfs terwyl ‘n swaard letterlik deur van hulle gegaan het.

Liefde aan die kruis
Dan reik die Here in Sy groot liefde (wat selfs nie deur verblindende pyn verdoof kan word nie) uit na hierdie vrou en ma, wat beskik was om Hom as ware Mens (God met ons) in die wêreld in te bring, te versorg en groot te maak. Van die kruis af beduie Hy vir haar na Johannes en sê: “Daar is jou seun”. Sterwend hang Hy vir ons sondes, in verskriklike pyn. Deur Sy lyde heen is Hy besig om die gang van die wêreldgeskiedenis te verander. Hiervoor moes Hy Wie almagtig God is, mens word. Tog kyk Hy nie Sy gewone aardse plig mis nie. As oudste Seun van Sy weduwee-ma Maria, reël Hy dat die dissipel met wie Hy so ‘n kosbare verhouding het, vir haar sal sorg. Met dieselfde liefde sorg Hy ook vir ons, tree Hy ook vir ons in. Daarom kan ons met vrymoedigheid na Hom gaan (Hebr.4:15-16).