Ons wil tot goeie werke is die gevolg van ons verbondenheid met Christus

  • Diens: 2014-06-01 ()
  • Prediker:
  • Skriflesing: Johannes 15:1-17
  • Teksvers: Johannes 15:4, 5; HK Sondag 32

Preekskets

'n Mens wil amper sê: Wat 'n geniale antwoord van die Kategismus in Sondag 32! Maar ook: wat 'n ontsaglike troosryke antwoord! Omdat die opstellers van die Heidelberger so slim was? Nee, omdat hulle so begenadig was, omdat hulle self vanuit die enigste troos gelewe het. Hoe verslae en hoe moedeloos is ‘n mens nie dikwels met jou dankbaarheidslewe nie? Dan kom die troos waardeur Christus ons moedeloosheid verdryf en ons weer tot dankbaarheid bring.

Waarom dan nog goeie werke doen, al is ons reeds geregverdig? Hoekom gehoorsaam wees, as Christus dan klaar al ons gehoorsaamheid volbring het? As ons by die mens se gevoel van dankbaarheid sou begin, verloën ons die werk van Christus. As ons by die mens begin het was die Heidelberger nie meer die troosboek nie. Ons troos begin nie by wat ons doen nie, maar by wat Christus in ons doen. Ons troos is nie hoe dankbaar ons is nie, maar dat Christus alleen ons dankbaar kan maak. Daarop wil ons vanoggend in die leerprediking let: die gelowige wil eerstens goeie werke doen omdat Christus ons deur sy Gees na sy ewebeeld vernuwe.