B(e)ly getrou tot die dood toe

  • Diens: 2017-03-05 ()
  • Prediker:
  • Skriflesing: Openbaring 2:8-11
  • Teksvers: Openbaring 2:8-11

Preekskets

Die Here se brief aan die gemeente van Smirna behels slegs vier verse in die Bybel. Tog sê hierdie verse baie van hierdie gemeente, want hier is glad nie ’n woord van vermaning in nie. Hulle het in liefde by die waarheid gebly – en baie daarvoor gely. Dit is dan ook opvallend dat die Here Homself in vs.8 voorstel as die Een wat dood was en lewend geword het. Die woord wat in vers 9 vir armoede gebruik word dui op uiterste armoede. Die mense het hulle werk verloor wanneer hulle tot bekering gekom en hulle geloof bely het. Christenwees

het armoede beteken, honger, verbrokkelde families, gevangeniskap, selfs die dood deur wilde diere of op die brandstapel (vgl. Luk.14:25-27,33). Hoewel hulle arm lyk, was hulle in werklikheid geestelik ryk. Vandag leef baie Christene ook in verskriklike armoede. Maar dit is wonderlik om te sien hoe hulle oë skitter as hulle oor die uitdra van die evangelie praat, en jou voorstel aan mense wat uit heidense godsdienste tot bekering gekom het. Sestig jaar nadat Johannes hierdie brief geskryf het, sou in ‘n tyd van bittere vervolging ook die leraar van hierdie gemeente sterf. Toe hierdie brief geskryf is, was Polikarpus ‘n man in sy middel twintigs. In 155 n.C. is Polikarpus – jare-lange predikant van Smirna – lewendig verbrand. In die groot stadion waar Christene wat gevang is ’n marteldood moes sterf, het die Romeinse prokonsul vir die ou man gesê: “Sê net: Die keiser is die Here – dan laat ek jou vry. Beledig Jesus Christus net een keer”. Hierop het Polikarpus van Smirna met hierdie bekende belydenis geantwoord wat tot vandag nog vervolgde Christene inspireer: “86 jaar het ek Hom gedien, en nooit het Hy my enige leed aangedoen nie; hoe kan ek dan my Koning en Verlosser vloek?” Polikarpus en die ander Christene het geweet hulle Here se belofte aan hulle in vers 10 is waar: “Wees getrou tot die dood toe, en ek sal jou die kroon van die lewe gee”. Dit is ook waaraan die miljoene Christene wat vandag in verskeie lande van die wêreld vervolg word vashou. Die Here vra van ons bereidheid om te praat wanneer gepraat moet word, en te doen wanneer gedoen moet word. Hy vra dat ons Hom bely en dit leef. Hy vra ook van ons meelewing met ons broers en susters wat ly. Dit alles kan gebeur met die sekerheid in Christus se dood en opstanding, dat die tweede dood (vers 11) ons nie sal tref nie.