Saligsprekinge 6: Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.

Preekskets

Op ’n manier oortref hierdie belofte die ander wat Jesus al vir ons gegee het. Dis immers juis vir ons, selfs as gelowiges, ’n lewnskrisis dat ons God nie kan sien nie. Ons glo in Hom. Ons aanbid Hom. Ons vertrou Hom met ons lewens. Maar ons kan Hom nie sien nie. Dis o.a. waarom party heidene vir hulle sigbare afgode maak. (Hou ook Jesus se belofte in Joh. 20:29 in gedagte.) Wanneer Jesus weer kom, sal ons Hom egter weer sien. Die gewetensvraag is egter: Wil jy God régtig sien? So gou as moontlik? In die lig van Hebr. 10 hoef ons nie meer te vrees dat ons sal doodgaan as ons Hom sien nie (Eks. 33:20). Maar die vraag bly of jy Hom wíl sien? Wil jy hê dat Jesus asb. tog nou moet kom – en ons God dan sal kan sien? Of het jy dalk ook al so vasgevang geraak in jou aardse lewe dat dit jou eintlik nie sal pas as Jesus nóu kom nie? Die vraag is ook nie of jy Jesus nou wil sien kom net omdat jy sielsmoeg is vir die swaarkry en lelik in hierdie sondige wêreld nie. Die vraag is of jy wil hê dat Hy moet kom sodat jy daarmee saam vir God kan sien en by Hom kan wees omdat jy Hom lief het en jy daarom énige tyd al jou aardse goed en ideale en lekker dinge sal opgee?

Hierdie gewetensvrae het alles met ons teksvers te make: Reín van hárt. Die Griekse woord wat Jesus hier vir “rein” gebruik, is vir skoongewaste klere, vir iemand wie se skuld betaal is of metaal waaruit onsuiwerhede verwyder is. Jesus praat dus hier van mense wie se harte vuil wás, maar wat nou skoongewas – gereinig – is. Die Bybel gebruik “hart” in verskeie opsigte: die setel van ons emosies, gedagtes, gewetens, begeertes, besluite en geloof. Jou hart bepaal wat jy dink en voel en glo en wil hê. Jesus praat dus hier van mense wie se mens-wees, karakter en persoonlikheid skoongewas is van sonde en van alles wat lelik is. So iemand is bv. skoongewas van vieslike gedagtes en oneerlike, onsuiwere bedoelings en agterbakse motiewe. So iemand koester bv. nie sondige emosies soos bitterheid en afguns nie. Woorde soos: agteraf, onderduims, bedrieglik, skelm, verdagmaker, rugsteker, pas nie by so iemand nie. Inteendeel, iemand wat rein van hart is, is openhartig omdat daar niks leliks in sy hart is wat hy vir ander mense wil of hoef weg te steek nie. As die Here ’n mens se lewe (en selfs ons godsdiens) beoordeel, kyk Hy nie soseer na jou prestasies nie, maar na wat in jou hart aangaan. Selfs as dit kom by ons godsdiens, by dít wat ons vir en t.w.v. die Here doen, kyk Hy nog steeds eerste na jou hart (Mat 23:25-28; Ps. 51).

Geseënd is dié wie se hart skoongewas is deur Jesus se bloed, skoongewas van ons ou sondige self en die boosheid in ons ou harte, want net hulle sal God sien en sal eendag onbelemmerd in sy teenwoordigheid (kan) lewe.