“Geseënd is dié wat honger en dors na geregtigheid…”

Preekskets

Om deesdae honger of dors te voel is vir baie van ons dalk eintlik iets aangenaams: Hmmm? Wat sal ek kry om te eet of te drink? In die Bybel se tyd het mense egter gereeld letterlik honger of dors gely. En dis waarna Jesus in ons teksvers verwys – na iemand wat so ’n aller oorheersende smagting het – en wel na geregtigheid oftewel dat dinge in God se oë rég sal wees.

Onthou op die punt waar Jesus sy saligsprekinge begin het - daarmee dat ons moet besef dat elkeen van ons (sonder Christus) geestelik bankrot is. Daarom behoort ons ook te treur - en dan eerder oor die toe-stand van ons geestelike lewe as oor ons lewensomstandighede. En vir dié wat as armes van gees oor hulle sonde treur, God se troos. In sy derde saligspreuk sê Jesus vervolgens: Salig is die sagmoediges. Ons kan sagmoedig hier skryf as: sag-moedig. Iemand wat as ’n bedelaar voor God besef dat dit nie moeite werd is om aan ons sy eie koninkrykies te probeer bou nie - net aan God s’n - is sag as dit oor sy eie belange gaan, maar so moedig soos ’n leeu as die belange van die Here op die spel is. Daarom: Geseënd is die Sagmoediges. En omdat dit in die Here se koninkryk gaan om dit wat reg is, omdat die Here as't ware sy koninkryk op geregtigheid bou, sê Jesus dan nou vierdens: Salig is dié wat honger en dors na wat reg is... -- want hulle sal versadig word.

Jesus verskuif dus die fokus. Waar Jesus ons in die eerste drie saligspreking help om onsself reg te sien, wek Hy nou ’n smagting op dat dit reggestel moet word, ’n aller oorheersende honger en dors na geregtigheid. En die genade is dat geregtigheid nie maar net een van God se eienskappe is, Hy oordeel daarom ook nie maar net altyd reg nie. Sy geregtigheid is van so aard dat Hy sondaars regverdig máák. En iemand wat honger en dors na geregtigheid, wil dit nie net vir hom of haarself hê nie - maar begeer dit uiteindelik vir alle mense. Lees gerus Rom. 3:21 ev; Joh. 6:35; 7:37 & Jes. 55:1. Vir elkeen wat so intens honger en dors na geregtigheid, belowe Jesus dat hulle dit ook sal kry.