Koningskinders

Wie is Aksie Koningskinders?

Koningskinders is ‘n nie-winsgewende weldaadsorganisasie wat met ‘n besliste Christelike grondslag te werk gaan tydens die poging om behoeftige kinders in die omgewing te help. Die meeste lede van hierdie organisasie is studente wat aan die NWU se Potchefstroomkampus studeer. Behalwe vir die studente is daar ook ’n Raad van Beskermhere wat uit plaaslike sielkundiges, dokters, predikante en so meer, bestaan.

Daar word een maal ’n maand, gewoonlik op ’n Vrydag, ’n aksie gehou. Vir hierdie aksie word die kinders by hulle skole opgelaai en by die aksie besorg. Tydens die aksie kry die kinders middagete, daar word Bybelstudie gedoen en gespeel.

Aan die einde van die jaar is daar ’n week-lange kamp. Tydens die kamp word daar ook Bybelstudies gedoen, drie keer ’n dag geëet, en kampaktiwiteite soos swem en nagmars gedoen.

Wat is ons doel?

Die doel is om die kinders op ’n geestelike vlak te help groei; vanuit ’n Christelike grondslag. Hiermee saam ook om vir hulle basiese lewensvaardighede en hoe om dit toe te pas, aan te leer. Daar word ook gepoog om geleenthede vir die kinders te skep en hulle sodoende te wys dat ’n mens nie die produk van jou omstandighede hoef te wees nie.

Die doel word bereik deur deurlopend die volgende te doen:

  • Bybelstudie te hou
  • Konstruktiewe speletjies te speel
  • Praktiese lesings aan te bied
  • Gesonde en smaaklike kos te voorsien
  • Goeie verhoudings met die kinders te bou