Soms praat God hard met ons om ons te oortuig van sonde

Preekskets

In Genesis 42 lees ons van ’n onverwagse, vreemde wending:

 

JOSEF SE BROERS BELAND VOOR HOM

Dink jou maar net die toneel in: Josef is besig om as eerste minister die verkoop van graan in Egipte te bestuur. Ewe skielik is daar tien gesigte voor hom wat hy herken: sy tien broers wat hom destyds as ’n slaaf verkoop het! En hy herken hulle dadelik, maar hulle het hom nie erken nie. Wat ’n wending is dit nie?

Hoe tree Josef dan op? Hy hou hom vreemd teenoor hulle; hy spreek hulle hard aan. Met die eerste oogopslag lyk dit of hy wraak neem. Maar hoe meer mens hierdie gedeelte lees en herlees en nadink oor wat hier gebeur, is dit baie meer waarskynlik:

 

JOSEF TOETS EN BEGELEI SY BROERS

Met sy harde optrede is Josef besig om sy broers se karakter te toets, en om hulle te begelei tot ’n skuldbelydenis. Die groot vrae in Josef se gedagtes is: Is sy broers dieselfde? Het hulle berou oor wat hulle hom aangedoen het? Dit toets hy deur hulle hulle optrede van twintig jaar terug te laat herleef. Hy praat rof met hulle, want hy weet dat hulle dit nodig het om hulle sonde in die regte perspektief te sien.

 

JOSEF SE BROERS WORD STADIGAAN OORTUIG VAN HULLE SONDE

Dit is asof hulle geestelik wakker gemaak word. Hulle raak bewus van wat hulle gedoen het. Ons sien die eerste stappe van vergifnis en versoening. Hulle word stadigaan oortuig van hulle sonde.

Wat leer ons hier? Ware skuldbelydenis is nodig vir vergifnis. Hiermee saam hoor ons die wonderlike troos van die evangelie: elkeen wat met ware skuldbelydenis na Christus draai, ontvang sy genade (1 Joh 1:8-9).