Die Here is met ons in tye van voorspoed en teëspoed

Preekskets

As ons Josef in Genesis 39 aantref, is               hy in een van die grootste krisisse van sy lewe. Hy is vervreem van sy gesin, verkoop as slaaf, ver in ’n vreemde land waar hy ’n vreemde nuwe baas moet dien. Maar te midde hiervan lees ons van die wonderlike troos:

 

DIE HERE WAS MET JOSEF IN POTIFAR SE HUIS (39:1-6)

Vers 2: “Die Here was by Josef”. Te midde van sy krisis was hy nie alleen nie. In die oomblik van sy grootste nood was die Here met hom. En dit lei daartoe dat Josef voorspoedig is, dat Potifar hom bevordering gee en dat die Here Potifar se huishouding seën.

 

DIE HERE WAS MET JOSEF TYDENS SY VERSOEKING

Maar te midde van sy voorspoed loop dinge weer skeef vir Josef: Potifar se vrou begeer hom. Maar deur die Here se genade weerstaan hy hierdie groot versoeking. Die wete dat die Here by jou is, maak die verskil in ons stryd teen versoeking. Hier leer ons drie dinge oor hoe om versoeking te weerstaan: [1] Onmiddellike weiering; [2] Deeglike redenering (oortuig jouself); [3] Vlug wanneer dinge te warm word.

 

Potifar se vrou vertel egter ’n liegstorie, en Josef eindig onskuldig op in die tronk. Dit is absoluut onregverdig! Maar dan lees ons die troos:

 

DIE HERE WAS MET JOSEF IN DIE TRONK

Vers 21: “Die Here was by hom”. Net soos in Potifar se huis was die Here by hom. En net soos in Potifar se huis is die resultate dieselfde.

 

DIE HERE IS ALTYD MET ONS

Genesis 39 gaan eintlik nie oor “Hoe om versoeking te oorwin” nie. Die grootste boodskap is: Die Here was met Josef in beide voorspoed en teëspoed. So is Hy ook by ons. Ons Here Jesus het immers belowe dat Hy met ons is al die dae tot die voleinding van die wêreld (Matt 28:20).