Ons het ’n diepe nood aan die Here se genade in ons gesinne

Preekskets

Josef se lewe is in verskeie opsigte ’n aangry-pende verhaal. Meer nog: Dit is geskiedenis! Aan die begin word ons voorgestel aan ’n gesin. ’n Gesin wat die Here se genade leer ken het, maar tegelykertyd ’n disfunksionele gesin.

 

JAKOB: As ons Jakob hier aantref, is hy nie meer Jakob (“die bedrieër”) nie, maar Israel. Tog sien ons steeds ’n aaklige sonde in sy lewe: hy het Josef liewer gehad as sy ander seuns. Dit het hy selfs gewys deur vir Josef spesiale klere te maak. En die ergste van alles: Dit is presies wat Jakob se pa (Isak) ook gedoen het. Jakob moes van beter geweet het.

Hoe verskriklik is dit nie? Die feit is: Dit gebeur selfs in gelowige gesinne. Ons moenie so dwaas wees om te dink dat gelowige gesinne van sonde gevrywaar is nie. Ons moenie dink dat die invloed van sonde in ons gesinne maar gering is nie. Inteendeel, ons kort dringend genade!

 

DIE BROERS: Die refrein wat ons dwarsdeur hierdie gedeelte hoor, is dat Josef se broers hom gehaat het (37:4,5,8,11). Die feit dat hy stories oor hulle aangedra het, dat hy spesiale klere ontvang het en dat hy drome gedroom het waarin sy broers voor hom buig, het gemaak dat sy broers hom meer en meer haat.

 

JOSEF: Die toekomstige “redder” van Egipte en sy eie gesin kan nie op ’n slegter manier aan ons voorgestel word nie. Hy is ’n klikkiebek, ’n bedorwe brokkie en ’n hoogmoedige vent. Hy het geen karakter nie.

 

DIE GESIN: Wat leer ons uit hierdie disfunksio-nele gesin? Ons het die Here se genade brood-nodig as ons as gesinne wil leef en funksioneer tot sy eer. Die troos is: Deur sy genade is hierdie gesin gevorm en geskaaf. Dit vat baie jare (en baie hoofstukke), maar deur swaarkry en beproewing heen het die Here hulle gevorm as ’n gesonde, gelowige gesin. Daar is genade vir elkeen wat in sy gebrokenheid draai na Christus.