Sonder God is ons geswoeg in hierdie wêreld tevergeefs!

Preekskets

Dit gebeur soms dat ons wonder: Wat is die sin van alles? Waarvoor sloof ek myself af? Dit is presies die vraag waarmee die Prediker worstel. Is alles nie maar net ’n gejaag na wind nie? En dan gee hy sy antwoord: “Alles kom tot niks … tot niks”.

 

DIE MENS SE GESWOEG IN HIERDIE WÊRELD IS TEVERGEEFS

 

Die Prediker verduidelik die tevergeefsheid van die mens se lewe aan die hand van vier voorbeelde uit die natuur. Die voorbeeld van die wêreld, die son, die wind en riviere. Al vier hierdie dinge het soveel beweging – daar is soveel energie wat gebruik word – en tog is daar geen voordeel of vooruitgang nie. Net so beskou hy die geswoeg van die mens in hierdie wêreld. Dit is tevergeefs.

 

Wat ’n pessimistiese en swartgallige is dit nie! Kan dit waar wees? Ja, soms voel dit so. Maar dit is nie in werklikheid wat die Prediker hier sê nie. Hy sê:

 

SONDER GOD IS DIE MENS SE GESWOEG IN HIERDIE WÊRELD TEVERGEEFS

 

Dit is duidelik uit twee verskynsels:

 

Die Prediker praat nie een keer in hierdie woorde van God nie.

Die Prediker verwys twee keer na ons lewe “in hierdie wêreld” (v3,9) – letterlik “onder die son”. Hy verwys na die lewensuitkyk wat nie rekening hou met Hom wat “bo” die son is nie. Hy verwys na ’n lewe sonder God. So ’n lewe, sê die Prediker, is waarlik tevergeefs.

 

Christus het juis gekom om ons te bevry van ’n ware tevergeefse lewe. En hierby het ons die troos dat ons arbeid in die Here nie tevergeefs is nie (1 Kor. 15:58).