In moeilike tye versterk die Here ons roeping!

Preekskets

Ons maak baie keer die fout om te dink dat net ’n predikant of ’n sendeling ’n roeping het. In werklikheid het elke gelowige ’n roeping. Aan die een kant het ons elkeen die roeping om in gehoorsaamheid aan die Here te lewe (Ef. 4:1). Aan die ander kant gee die Here ook ons spesifieke roepinge; dinge wat Hy ons op die hart druk om te doen binne ons spesifieke omstandighede met die gawes wat Hy ons gegee het.

 

Maar ons roeping is nie altyd maklik nie. Soms word ons moedeloos. Dit sien ons baie duidelik in die lewe van Elia. Elia het ná die wonderlike gebeure op Karmelberg absoluut moedeloos geword toe Isebel hom bedreig. Dit was vir hom een te veel. Hy wou klaar wees met sy roeping. Maar wat hoor ons in 1 Konings 19?

 

IN MOEILIKE TYE VERSTERK DIE HERE ONS ROEPING

 

Die Here troos Elia dat Hy nie net in die groot, indrukwekkende gebeure besig is nie, maar ook in die alledaagse. Hiermee saam gee die Here hom die troos dat Hý sorg dat sy raadsplan in vervulling gaan. Hy sal op sy tyd en sy manier die werk tot vervulling bring wat Hy ons oplê. Die Here se Woord keer nooit leeg na Hom toe terug nie; dit doen wat Hy gedoen wil hê (Jes 55:11). En alhoewel dit soms lyk of ons min en klein is, sorg die Here dat daar altyd ’n oorblyfsel oorbly wat aan Hom getrou is.

 

Dat God sy raadsplan in vervulling laat gaan, sien ons die duidelikste in die koms van sy Seun. God het in die volheid van die tyd sy Seun vir ons gestuur om ons los te koop. En Hy troos ons dat Hy met ons is al die dae tot die voleinding van die wêreld – ook in die uitvoering van ons roeping.