Verheerlik God met jou liggaam wat aan Hom behoort!

  • Diens: 2017-03-26 ()
  • Prediker:
  • Skriflesing: Eksodus 20: 14 & 1 Korinthiërs 6: 12-20
  • Teksvers: 1 Korinthiërs 6:13

Preekskets

 

 

 

In die sewende gebod verbied die Here egbreuk. Maar die Here verbied nie net die fisiese daad van egbreuk nie (vgl. Matt 5:27-30). Ten diepste beveel Hy die mens om rein en heilig voor Hom te lewe.

 

Die Korintiërs was bekend vir hulle losbandigheid. Dinge was só erg dat hulle onsedelikheid gepleeg het wat selfs nie eens onder die heidene voorkom nie (1 Kor 5:1). Daarom verduidelik Paulus aan hulle:

 

ONS LIGGAME BEHOORT AAN DIE HERE

’n Gelowige is vry in Christus – maar hy of sy is nie vry om te sondig nie. Die mens se liggaam is nie geskep vir seksuele losbandigheid nie; die mens se liggaam is geskep om die Here te verheerlik! Christus het nie net ons siele losgekoop nie, maar ook ons liggame.

  • Ons liggame is lede van Christus:   Ons is met alles wat ons is ingelyf in Christus. Gevolglik is ons liggame ook lede van die liggaam van Christus. Ons liggame behoort aan Hom. Ons mag God daarom nie beroof van wat Syne is deur ons liggame losbandig te gebruik nie.
  • Ons liggame is ’n tempel van die Heilige Gees: Elke gelowige se liggaam is ’n tempel van die Heilige Gees. Wie van ons wil die tempel van die Here skend deur losbandig te lewe?

 

WAT GOD VAN ONS VERWAG IN TERME VAN ONS LIGGAME

  • Vlug van seksuele losbandigheid: Moet niks daarmee te doen hê nie. Moenie eens in die nabyheid daarvan kom nie. Moenie met vuur speel nie. Vlug net!
  • Verheerlik God in jou liggaam: Ons is ten duurste gekoop met die bloed van Christus. Daarom moet ons God in ons liggame verheerlik.