Verryk julle geloof met volharding

Preekskets

God sê deur Petrus in 2 Petrus 1:3 dat Hy ons alles geskenk het wat ons nodig het om te lewe en hom te dien. Hy het dit ook vir ons moontlik gemaak om te glo.  Nou sê Hy in vers 6 dat ons alles in die stryd moet werp om ons geloof te verryk met ... volharding.  Job is ’n sprekende voorbeeld van volharding soos God dit wil hê, vertel Jakobus 5:11 ons.  Dat volharding ’n belangrike deel van gelowig-wees is, blyk ook duidelik uit baie ander Bybelgedeeltes.

 

Volharding is sigbaar:

Daniël 6:17 – Die koning moes toe die bevel gee, en Daniël is gebring en in die leeukuil gegooi.  Die koning het vir Daniël gesê: “Mag jou God wat jy met soveel volharding dien, jou red.”

Romeine 8:25 – as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding.

1 Tessalonisense 1:3 – bring ons dan voor God ons Vader in herinnering ... die volharding van julle hoop op ons Here Jesus Christus.

2 Tessalonisense 3:5 – Mag die Here julle gedagtes rig op die liefde van God en die volharding van Christus!

 

Volharding is haalbaar:

Kolosense 1:11 – Mag God ... julle versterk en aan julle al die krag gee om in alle omstandighede met geduld te volhard.

1 Timoteus 2:15 – Volhard in geloof, liefde en ’n heilige lewe

1 Timoteus 6:11 – Maar jy, man van God, moet van hierdie dinge af wegvlug.  Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid.