Geloof sonder kompromie

Preekskets

In Openbaring 2:12-17 praat Christus met sy kerk: sy kerk destyds in Pergamum, maar ook sy kerk dwarsdeur die eeue en regoor die wêreld. In sy woorde hoor ons duidelik:

 

DIE KERK MOET STYF VASHOU AAN CHRISTUS

Christus beskryf Pergamum as “die plek waar die Satan woon”, omdat daar soveel afgodsdiens was. Die kerk dáár is vervolg omdat hulle nie wou meedoen aan allerlei afgodspraktyke nie. Maar ten spyte van en te midde van hulle moeilike omstandighede het hulle aan Christus bly vashou. Hulle het aan sy Naam getrou gebly; hulle het nie hulle geloof in Hom afgesweer nie.

Wat is ons oproep in hierdie woorde? Ons moet styf vashou aan Christus. Ons moet altyd en onder alle omstandighede aan Hom bly vashou.

 

DIT BETEKEN DAT DIE KERK NIE KOMPROMIEË KAN AANGAAN NIE

Die kerk in Pergamum het mense toegelaat wat “die leer van Bileam aanhang”. Daar was ʼn groep in die gemeente wat al hoe meer kompromieë met die wêreld aangegaan het; hulle het al hoe meer geïdentifiseer met die wêreld. Soos Bileam die volk verlei het om kompromieë aan te gaan deur ander gode te aanbid, so het hierdie leraars in Pergamum verkondig dat mens nie te streng teenoor die wêreld en afgodsdiens hoef te staan nie.

Maar wat sê Christus? “Ek het dit teen julle ... Bekeer julle, anders kom Ek gou na julle toe en sal Ek daardie mense bestry met die swaard van my mond”.

Geliefdes, dit bring ons onvermydelik voor die vraag: Watter kompromieë gaan ek en jy in die geloof aan? Waar lyk ons maar net soos die wêreld? Waar gee ek en jy versagtende omstandighede terwyl ons eintlik van Christus af wegdryf? Ons opdrag is dringend: Bekeer!

 

CHRISTUS BELOWE GEMEENSKAP MET HOM AAN DIEGENE WAT OORWIN

Vir diegene wat bekeer van hulle kompromieë en volhard tot die einde, belowe Christus toegang tot die bruilofsmaal van die Lam. Dit is ook wat die nagmaal aan ons getuig. Wat ʼn wonderlike vooruitsig!