Daar is meer aan ’n verhouding as getrouheid

  • Diens: 2017-02-26 ()
  • Prediker:
  • Skriflesing: Openbaring 2:1-7
  • Teksvers: Openbaring 2:1-7

Preekskets

Hierdie brief aan die gemeente van Efese, wat die Here Jesus self laat neerskryf, sê vir ons belangrike dinge oor God se verhouding met ons en ons verhouding met Hom.

Naas Rome, was Efese destyds die belangrikste stad in die Romeinse ryk.  Dit was ‘n pragtige en moderne stad met straatligte, lopende water en riolering.  Dit was ‘n skoon stad met marmer paaie wat in die son geblink het.  Dit was die belangrikste hawe-stad en handelstad van Asië.  Net buitekant die stad was een van die antieke wonders van die wêreld, die tempel van Artemis of te wel Diane.  Efese was ongelukkig ook ‘n stad vol afgodediens en prostitusie.

Efese het egter ook die hart van die Christelike kerk in die eerste jare van die Christendom geword.  Paulus het Efese tydens sowel sy tweede as sy derde sendingreis besoek; en het selfs met sy terugkeer uit Europa moeite gemaak om die ouderlinge van Efese in Milite te ontmoet.  Tydens sy derde sendingreis het Paulus bykans drie jaar lank elke dag gelowiges in Efese geleer – in so ‘n mate dat ons kan sê dat die eerste Bybel- of teologiese-skool in Efese was.  Apollos het in Efese onderrig gegee met ‘n brandende ywer (Hand.18:25).  Priscilla en Aquila het hier kosbare werk gedoen (Hand.18:26).  Die impak van al hierdie werk was sodanig dat die Artemis-verering afgeneem het en dat toe haar tempel later afgebrand het (262nC.), dit nie weer herbou is nie.  Uit die gevangenis in Rome het Paulus sy brief aan die Efesiërs geskryf.  Ook was Timoteus ‘n tyd lank predikant van hierdie gemeente.

Na die Joodse vervolging in 66nC. het die apostel Johannes ook na Efese gekom.  Volgens oorlewering het Maria (- die ma v/d Here) saam met hom gekom.  Johannes was in Efese werksaam tot hy in die tyd van die regering van keiser Domitianus (81-96nC) na Patmos verban is.  Op ‘n baie hoë ouderdom het hy volgens oorlewering na sy ballingskap vir ‘n jaar of twee teruggekeer na Efese, waar hy oorlede en begrawe is.

Wanneer die Here die brief in Openbaring 2 aan die gemeente van Efese laat skryf, was meeste van die lidmate al tweede geslag Christene. Hulle het goeie katkisasie gehad en hulle het die Woord van God geken en dit toegepas in hulle lewe. Hulle het die dwalinge wat die kerk wou inkom raakgesien en uitgewys. Tog was hulle verhouding met God nie wat dit moes wees nie.