Openbaring 1

Preekskets

Op verskeie dele van die wêreld ervaar die kerk van die Here moeilike tye. Aan die een kant krimp gemeentes. Aan die ander kant hoor ons van die wreedste vervolging. En dit alles laat mens wonder oor die toekoms van die kerk. In Openbaring 1 hoor ons egter die Here se troosryke boodskap aan sy kerk te midde van moeilike tye.

Hier vind ons die kerk te midde van geweldige swaarkry (1:9) Die kerk in die eerste eeu is geweldig vervolg deur die Romeinse Ryk. Johannes self is na Patmos verban ter wille van die evangelie. Te midde van swaarkry stuur Christus ’n boodskap vir sy kerk (1:10-11) Johannes word beveel om die dinge wat hy sien op te skryf vir sewe gemeentes in KleinAsië wat die destydse kerk verteenwoordig. Te midde van hulle swaarkry stuur Christus vir hulle ’n boodskap.

Christus se boodskap is: “Ek is by julle” (1:12-13a) Johannes sien die Here Jesus tussen sewe kandelare, met sewe sterre in sy regterhand. Die sewe kandelare verteenwoordig die kerk, en die sewe sterre die leraars. Hier troos die Here Jesus sy kerk met die feit dat Hy tussen sy kerk is. Hy is by hulle. Hy is Immanuel wat belowe het: “Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Matt 28:20).

Die wonderlike besef: Wie Christus is wat by sy kerk is (1:13b-16) Wie is hierdie Christus wat altyd by sy kerk is en bly? Hy is ons ware Hoëpriester, die groot Koning, die groot Regter; Hy is volkome heilig en heerlik, alwetend, absoluut standvastig en betroubaar, almagtig. Die wonderlike resultaat: ons hoef nie bang te wees nie (1:17-20) Ons hoef nie bang te wees nie, want die Eerste en die Laaste, die Een wat dood was maar wat die dood nie kon hou nie, is by ons!