“Geseënd is dié wat vervolg word…”

Preekskets

Waar Jesus in die eerste sewe saligsprekinge vir ons ware Christene se karaktereienskappe uitgelig het, waarsku Hy ons in vers 10 en 11 oor iets wat op alle ware kinders van die Here wag - vervolging in een of ander vorm. Boonop is Jesus Self ook vervolg. Uiteindelik is Hy gevange geneem, onregverdig verhoor, gegesel en toe gekruisig...

Hebr. 11:36-38 maak dit duidelik dat dit nie net bekende mense is wat in die Bybel se tyd vervolg is nie. Hierdie vervolging het ná die Bybel se tyd voortgeduur. Elke ware Christen sál op een of ander manier in hierdie wêreld vervolg of teengestaan word.
Jesus is egter nie besig om te sê dat enige mens wat vervolg word, op die Here se seën kan reken nie. Jesus is ook nie besig om te sê dat ons alle vervolging en teenstand wat wáre Christene deurmaak, met die Here se seën kan verbind nie. Jesus kwalifiseer sy woorde verder as Hy sê: "Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig ...." En dan moet dit regtig t.w.v. Jesus wees en nie maar net wat jy dink tot sy eer is nie.

Dit is dus ook nie elke mens wat vervolg, beledig of sleg gesê word, wat die belofte van die Here se seën kan toe-eien nie. Hierdie teksvers het nie betrekking op mense wat ly onder rassisme, of gewone misdaad of gewetenlose politieke magte nie - nét op ware Christene wat ly bloot omdat hulle in Jesus glo en Hom wil dien.

En daarom: As jy 'n ware Christen is, sál sondige mense jou teenstaan. As jy dan sê dat jy 'n ware Christen is en nog nooit teenstand gekry het bloot omdat jy gedoen het wat Jesus van jou verwag nie, moet jy mooi gaan kyk na hoe jy jou geloof uitleef.  En ás jy wel al t.w.v. Jesus en t.w.v. wat reg is, vervolg of beledig of te kort gedoen is - wees bly, want Jesus sê dat jou loon baie groot is - die koninkryk van die hemel behoort immers aan jou.