Saligsprekinge 7: Geseënd is die vredemakers

Preekskets

Ons leef in ‘n wêreld vol geweld. Tragies genoeg is hierdie toestand al deel van die mensdom vandat Kaïn vir Abel vermoor het. Uit die geskiedenis leer ons dat daar elke paar dekades ʼn vernietigende oorlog uitbreek. Die 20e eeu sou die eeu van wêreldvrede wees. Maar Jesus sê: Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.

Wat is vrede? Om te sê dis wanneer mense nie baklei of kwaad is vir mekaar nie, sê nog net wat dit nié is nie. Een rede waarom dit so moeilik is om te sê wat vrede is, is omdat vrede iets is wat eintlik in die paradys agtergebly het. Die “vrede” wat ons nou ken, is gewoonlik net ‘n verposing totdat die volgende konflik weer uitbreek. Daar sal nooit egte vrede wees solank daar nie iets aan die sonde in mense se harte gedoen word nie (vgl ook Jak 4:1,2).

Van watter die vredemakers praat Jesus? Nie soseer die lede van die organisasies wat hulle elke dag vir vrede in die wêreld beywer nie, maar eerder die mense wat hulle beywer vir vrede met God (Rom. 5). Die vrede waarvan Jesus praat gaan ook oor ‘n verhóúding – een waarbinne daar volkome harmonie en rus en vertroue is en waarbinne hierdie dinge voortdurend groei.

Hoewel die Griekse woord wat Jesus hier vir “vredemaker” gebruik, ook op vrede tussen mense in die algemeen kan dui, is daar minstens 3 redes waarom ons dit nie so moet verstaan nie. Ons het eerstens gesien dat Jesus ons nie in die saligsprekinge van verskillende soorte mense vertel nie, maar die egte eienskappe van die Here se kinders uitlig. Die vredemakers is dus dieselfde mense wat volgens Hom arm van gees, en treurend oor die sonde, en sagmoedig en rein van hart is – die burgers van die koninkryk van die hemel. Só gesien is vredemakers mense wat 1) self ‘n vredevolle verhouding met God het, 2) in ‘n vredevolle verhouding met alle ander mense wil staan (Rom 12:8) en 3) óók wil hê dat ander mense in ‘n vredevolle verhouding met God en met mekaar sal staan. Dis o.a. waarom Jesus sê dat vredemakers “kinders van God genoem sal word.”

Hou laastens in gedagte dat Jesus hier van vredemákers praat. Vrede moet nie maar net bewaar word nie. Dit moet soms gemaak word. Jesus het immers vrede tussen ons en God kom maak deur iets aan ons sonde te kom doen. Wees ook versigtig hoe jy vrede probeer maak. Dit kos jou gewoonlik iets van jouself. Jesus het Homself gegee. Verder sal jy ook net regtig kan vrede maak as dit duidelik is dat dit jy dit met ʼn rein hart aanpak – ook soos Jesus. Rom. 14:17 beklemtoon laastens dat “die koninkryk van God ‘n saak van gehoorsaamheid en vrede en blydskap” is. As jy vrede wil maak, is die vraag nie soseer of ek of jy reg is nie, maar wat reg is in die Koning se oë. En so het vrede maar altyd ‘n manier om daar te kom woon, waar mense aan God gehoorsaam is en sy gesag oor hulle lewens ten volle erken en eerbiedig en blymoedig uitleef. Amen.