God het hemel en aarde uit niks geskep

  • Diens: 2016-08-14 ()
  • Prediker:
  • Skriflesing: Genesis 1:1-3; Johannes 1:1-5; Hebreërs 11:3
  • Teksvers: Genesis 1: 1; NGB Artikel 1

Preekskets

Génesis 1 is een van die moeilikste hoofstukke in die Bybel. Daar is baie wat ons nie verstaan nie. Dit is waarskynlik ook nie bedoel as ’n beskrywing van presies hoe God alles gemaak het nie, want daar is dinge wat buite die fokus is en nie genoem word nie, bv. die mikro-wêreld van insekte en mikro-organismes. Tog is daar dinge wat God baie duidelik aan ons openbaar – dinge wat ons as mense met ons sonde-verduisterde verstand nie vanself sou kon uitvind nie.

Die heel eerste en heel belangrikste is dat God hemel en aarde geskep het. Hy is onderskeie van die skepping. Buite Hom is daar ook geen mag asof daar van ewigheid af dinge bestaan het nie. Daardeur word sy ewigheid beklemtoon.

Hy is die enigste Een wat handel in Génesis 1. Daardeur word sy almag geopenbaar, en word geïmpliseer dat Hy alles uit niks geskep het – ’n begrip wat eers later in die Bybel uitdruklik gestel word.

Hy gaan die sigbare dinge vooraf. Hy het byvoorbeeld tyd en energie geskep. Daardeur word bevestig dat Hy ’n “geestelike Wese” is, totaal anders as die skepping.

Sy teenwoordigheid op die waters, reeds voor die ordening van die skepping, impliseer dat Hy oral teenwoordig is. Dit, sowel as sy selfoorleg in Génesis 1:26, impliseer ’n meervoudigheid wat later as die Drie-Eenheid geopenbaar sou word.

Genesis is nie bedoel om al ons nuuskierige vrae oor die wetenskap te beantwoord nie, maar om ons te lei tot verwondering: dat ons Hom as God glo en bely.