Geseënd is die sagmoediges

Preekskets

"As jy vandag iewers in die lewe wil kom, moet jy sterk wees." Maar wat sê Jesus: Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die aarde ontvang. Nét die sagmoediges en niemand anders nie. Maar wie of wat is hierdie sagmoediges?  En hoekom sal húlle dan nou juis die aarde ontvang?

Die Griekse woord wat Jesus hier vir die "sagmoediges" gebruik, is al onvertaalbaar genoem.

Die mense wat die Bybel sagmoedig noem, was duidelik nié ruggraatloos, swak, gedienstig of kragteloos nie, maar het geweldige krag gehad.  Máár hulle kon hulle krag - in gehoorsaamheid aan God - reg beheer.  Verder het hulle hulle innerlike krag net t.w.v. die belange van God se die koninkryk gebruik.

So vertel die Bybel ons van sagmoediges soos Job (Job 1:20-22); Moses (Num. 2:3), Dawid (1 Sam. 24) en Stefanus (Hand 7:51-60). Sagmoedigheid is om krag onder beheer te hê omdat jy weet dat jou eintlike krag van die Here af kom en dat jy dit moet gebruik om sy belange te bevorder. Dis deel van die vrug van die Heilige Gees en kom saam met "arm van gees" wees. Só gesien is daar by ʼn sagmoedige nie plek vir selfbejammering nie en ook nie die behoefte om sy of haar reputasie te verdedig nie - want het iemand wat "arm van gees is" wat die moeite werd is om te beskerm!? Stefanus, Dawid en Moses het God se koninkryk voorop gestel.

Die duidelikste voorbeeld van Iemand wat regtig sagmoedig is, is egter ons Here Jesus Christus Self (Mat. 11:29). Hy het eerstens sagmoedigheid binne die Drie-eenheid betoon en vrywillig ingestem om vir sondaars te kom sterf (Fil. 2:6,7). Jesus sê ook dat Hy niks uit sy eie kan doen sonder sy hemelse Vader nie (Joh. 5:19). Voor sy kruisdood het Hy gebid: "Nou is Ek diep ontsteld. En wat moet Ek sê? Moet Ek sê: Vader, red My uit hierdie uur? Maar juis hiervoor het Ek gekom, vir hierdie uur...  Vader, verheerlik ú Naam!"

Jesus was ook sagmoedig teenoor mense - en dit sonder om op enige stadium God se eer aan te tas.

Ons moet egter nie maar Jesus se voorbeeld bewonder nie. Ons moet Hom hierin navolg.

Om sagmoedig te wees voor God beteken o.a. dat ons God as Gód, as die Here die Almagtige, as die Here die Vrymagtige, sal erken en nederig sal aanvaar wa Hy oor ons beskik (Klaagl. 3:37-39).

Om sagmoedig teenoor mense te wees, betekend dat ek en jy die innerlike krag sal hê om:

  1. mense se persoonlik afbrekende kritiek, kan laat afgly;
  2. 'n persoonlike belediging aanvaar sonder om dié wat jou beledig, te verag. (2 Kor. 10:1);
  3. geduldig sal wees met jou vriende wanneer hulle jou in die steek laat. (2 Tim. 4:16,17);
  4. mense wat nog verlore is sagkuns sal behandel (2 Tim. 2:24);
  5. en sagkuns sal werk met ander Christene wat fouteer of misluk (Gal. 6).

Wat belowe Jesus die sagmoediges? "Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die aarde ontvang."

  • Dié mense wat arm van gees is sál eendag God se ewige heerlikheid sal ingaan.
  • Hierdie belofte gaan egter ook oor vandag.
  • Die sagmoediges is nou al basies vergenoegd met hulle omstandighede - of dit nou goed of sleg is.

Die sagmoediges kan daarom ook nie anders as om saam met Paulus in Rom. 8 te jubel nie: As God vir ons is, wie kan dan teen ons wees...? Amen.