God sal ons gebed verhoor om alles in almal te wees

  • Diens: 2016-05-22 ()
  • Prediker:
  • Skriflesing: 1 Korinthiërs 15:20-28; Johannes 5:21-27
  • Teksvers: 1 Korinthiërs 15:28

Preekskets

Wie hierdie gebed bid kan geen wegkruiper wees nie. Wie hierdie gebed met erns bid kan homself nie in 'n klooster gaan wegsluit en die wêreld vermy nie. Wie hierdie gebed met oorgawe bid kan Sondag en Maandag nooit los dink van mekaar nie. Wie hierdie bede opreg bid glo dat elke gelowige in diens van God staan. Dat elke gelowige 'n burger van God se koninkryk is. Trouens, alle mense is burgers van God se koninkryk.

'n Gelowige is egter 'n burger wat die regering van God oor alle dinge erken. Gelowiges is biddende burgers wat die Koning persoonlik ken. Wanneer ons daar voor God se troon staan, wat bid ons? Wat bid ons tot ons Koning? Ons bid onder andere: laat u koninkryk kom. Hoekom vra ons dit? Bid ons dat God nou koning sal wees? Hy is dan alreeds die enigste Koning van die hele skepping! Ons bid eintlik drie dinge. Eerstens, regeer ons deur u Woord en Gees. Tweedens, vernietig die werke van die Bose en derdens, onderwerp alle dinge aan U sodat U alles in almal kan wees. Daarop wil ons vanoggend in die prediking let.