God maak jou rein van hart sodat jy Hom kan sien

  • Diens: 2016-04-24 ()
  • Prediker:
  • Skriflesing: Spreuke 4:10-27
  • Teksvers: Spreuke 4:23 en Matteus 5:8

Preekskets

'n Mens se hart is 'n baie belangrike orgaan waarsonder jy nie kan lewe nie. Simbolies is jou hart die kern van jou geestelike lewe. Daarom die oproep om versigtig te wees met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe. Christus self belowe as jou hart rein is, sal jy God sien.

Godsdiens is nie net 'n saak van die verstand nie, maar jou hele menswees is betrokke. Daarom roep die Here ons deur Salomo op om te luister en te hoor. (Verse 10 en 20) Albei kere is dit 'n bevel – jy moet dit doen. Dit is tot jou beswil. Luister goed en moet dit nie vergeet nie. Pas jou hart op. Hoe? Wees versigtig, weerhou jou van leuens, moenie mense mislei nie. Bly op die regte pad. Die pad van die woord. Christus leer dat jy jou hart rein moet hou. Dus jou hart moet skoon gewas wees deur Christus se bloed.

Jy kan alleen rein wees as Christus deur Sy Gees Koning van jou lewe is. Daar is 'n ooreenkoms met die eerste gebod. God alleen en nie God plus iets of iemand anders nie. Jy moet jou hart voortdurend reinig deur daaglikse bekering. Deur berou en bely van jou sondes en glo dat jy deur Christus vergewe is. Dan alleen kan jy God sien – in Sy teenwoordigheid leef en sterf.