Ons getroue God eis getrouheid in die huwelik

  • Diens: 2016-04-24 ()
  • Prediker:
  • Skriflesing: Maleagi 2:10-16
  • Teksvers: Maleagi 2:14-16

Preekskets

In ons reeks preke oor Maleagi het ons gesien dat die eerste gedeelte van hoofstuk 2 oor die Leviete en priesters se ontrouheid aan die Here gaan. In vers 10-16 beweeg die fokus na die volk van die Here se huwelikslewe.

Hier is twee goed wat aan die orde kom: dat hulle ontrou geword het aan God deur te trou met die heidense volke (vers 10-12) en dat hulle ontrou geword het aan mekaar deur ewe gemaklik te skei van ‘n huweliksmaat met wie hulle al baie jare getroud was (vers 13-16). In hierdie gedeelte kry ons een van die kragtigste waarskuwings rakende huwelike met ongelowiges en egskeiding. Die Here noem dit onderskeidelik 'n gruwel en pure geweld. Ons kry egter ook in hierdie gedeelte een van die mooiste openbarings van die huwelik. God is getuie tussen man en vrou.

Die huwelik is 'n verbondsluiting voor God se aangesig. God wil 'n nageslag hê wat Hom dien. Waar gelowiges getrou aan mekaar in die huwelik leef, beleef hulle ook dat God ‘n behae in hulle offers het. Getroudes wat getrou aan mekaar is omdat hulle God liefhet, beleef ook die getroue sorg van die HERE.