Die eer wat ons Vader toekom

  • Diens: 2016-02-28 ()
  • Prediker:
  • Skriflesing: Maleagi 1:1-14
  • Teksvers: Maleagi 1:6,7

Preekskets

Hierdie sal DV die eerste wees in ’n reeks preke oor die boek Maleagi.

Maleagi tree heel moontlik op in die tyd van Nehemia of ’n tydjie na sy hervorminge. Baie van die afwykings en sondes wat in Nehemia genoem word, word ook deur Maleagi afgewys. Maleagi tree ongeveer 400 jaar voor Christus se koms op en is waarskynlik die laaste profeet gewees voor die koms van Johannes die Doper. ’n Gedeelte van die volk het teruggekeer uit die Babeloniese ballingskap. Die volk se omstandighede was maar power gewees.

Van die ou ryk van Salomo het niks oorgebly nie. Hulle was nog onder die heerskappy van die Perse. Van Sagaria en Haggai se profesieë het die volk nog nie veel gesien bewaarheid word nie. Die tempel is herbou, die openbare aanbidding het weer aangegaan, maar die volk het moed verloor en lou in hulle geloof geraak. Trouens, hulle het die Here se liefde en trou bevraagteken. Dit het duidelik geblyk in hulle aanbidding van die Here.

Dis dan dat die Here vir Maleagi stuur om sy volk weer na Hom toe terug te roep. So begin die boek Maleagi dan: Ek het julle liefgehad, maar julle vra: Hoe het U ons lief?

Die Here verkondig opnuut weer sy liefde aan sy volk, maar Hy wys ook vir hulle hoe vêr hulle van Hom af weggedwaal het.