Bitterheid en Vrede

  • Diens: 2015-09-27 ()
  • Prediker:
  • Skriflesing: Efesiërs 4:25-5:2, Hebreërs 12:14-15
  • Teksvers: Efesiërs 4:31

Preekskets

Dit is reg om ongelukkig te wees oor dinge wat sleg en verkeerd is. Om oor iets bitter of verbitter te word, is egter sonde. Bitterheid is een van die sondes in mense se lewens wat van die grootste hartseer moontlik kan veroorsaak. Baie van die probleme wat mense het soos haat, aggressie, neerslagtigheid, depressie, twis, verhouding- en huwelikspanning, familie-onenigheid, werk- en studie-probleme, en dies meer, kan teruggevoer word na bitterheid wat in ons in gegroei het.

Bitterheid groei in seer omstandighede wat nooit verwerk is. Dit maak jou leeg. Dit neem jou vreugde weg. Dit maak jou ‘n mens wat nie tevrede in liefde tot God en naaste kan lewe nie. Enige ontevredenheid of seer, wat nie opgelos of verwerk word nie, kan die saadjie wees wat bitterheid nodig het om van jou ‘n mens te maak wat so anders is as wat die Here bedoel het jy moet wees. Daarom waarsku God ons in Efesiërs 4:31: ‘Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie”.

Mag ‘n mens dan nooit ontevrede wees nie? Moet al die verkeerde dan geïgnoreer word? Nee! Die Bybel sê duidelik dat God nie sonde duld nie en dat ons dit daarom ook nie mag duld nie. Teen wat verkeerd is moet opgetree word. Maar ons mag nie afgetrek word om self op ‘n verkeerde manier op te tree nie. Daarom dat die Here vir ons in Romeine 12:21 sê: “Oorwin die kwaad deur die goeie”.

Die Here Jesus het ter wille van ons gesterf en weer opgestaan – sodat ons nie meer slawe van die sonde nie, maar nuwe mense kan wees. Hy wil nie dat bitterheid van ons haatlike of negatiewe mense maak nie. Deur die werking van die Heilige Gees word die seer in ons lewe ‘n geleentheid om te wys wat dit beteken om jou volle vrede en sekerheid in Christus te hê.