Moet nooit verbitter word nie

  • Diens: 2015-03-01 ()
  • Prediker:
  • Skriflesing: Efesiërs 4:17-5:4; Hebreërs 12:14-15
  • Teksvers: Efesiërs 4:31; Hebreërs 12:15

Preekskets

Waarom wil God nie hê dat ons verbitter word nie?
Wat sê dit van Hom? Wat sê dit van ons?
Hoe moet ons hierdie opdrag uitvoer?

'n Mens se binneste is soos ‘n tuin waarin mense saadjies saai. Daar is goeie saad wat in ons gesaai word – dinge wat ons gelukkig, dankbaar en entoesiasties maak. Vir ons as gelowiges spoor dit aan om op aarde te lewe soos God van ons verwag.

Maar daar is ook negatiewe saad wat in ons binneste-tuin gesaai word. Dit is negatiewe dinge wat jy hoor of gebeur. Bitterheid groei in ‘n mens wanneer jy hierdie saadjies vertroetel, wanneer jy toelaat dat die negatiewe saadjies in jou vassteek.

Hebreërs 12:15 sê dat as bitterheid eers in jou wortelgeskied het, dit die lelikste vrugte voortbring. Dit besmet jou lewe en maak mense om jou ongelukkig. Dit maak van jou ‘n mens wat God juis nie bedoel het jy moet wees nie.

In die natuur kan saad maklik weggespoel word deur ‘n goeie reënbui. Maar as iets soos gras eers wortelgeskied het, is dit groot werk om dit daar weg te kry. Dit geld ook vir negatiewe dinge wat in ons lewens wil wortelskiet. Om as nuwe mense in Christus te lewe moet verontregte gevoelens so vinnig moontlik uit die weg geruim word, terwyl dit nog net ‘n saadjie is.

Om te keer dat ons verbitterd word moet ons kan vergewe. God het deur Christus my alles vergewe. Ek wys my dankbaarheid teenoor die Here wanneer ek vir ander intree in gebed.