God openbaar sy heerlikheid in gemeenskap met sy kinders

  • Diens: 2014-02-02 ()
  • Prediker:
  • Skriflesing: Johannes 1:14-18; Eksodus 33:17-34:7; 40:33-38
  • Teksvers: Johannes 1:14

Preekskets

Die tema van God se heerlikheid loop soos 'n goue draad dwarsdeur die Bybel. Een van die hoogtepunte van hierdie openbaring kry ons in die gedeelte waar Moses vir die Here vra om sy heerlikheid te sien. Dis dan dat die Here vir hom sê dat niemand sy aangesig kan sien en bly leef nie. Tog, laat die Here vir Moses toe om Hom van agter te sien. Dis teen hierdie agtergrond dat ons Johannes 1:14 moet verstaan. Die hele Nuwe Testament berus volkome op die Ou Testament. Ons sien dit in Johannes 1:14 ook duidelik hoedat Johannes teruggryp na die openbaring van die Here se heerlikheid in die woestyn tydens die uittog asook Moses wat saam met God op die berg was. In Christus het die apostels God se heerlikheid gesien! Hulle is nie weggesteek in ‘n klipskeur nie, hulle het meer as Moses gesien! Daarop wil ons vanaand in die prediking fokus: wat beteken die begrip: God se heerlikheid en dat die apostels dit kon sien? Hoe is Christus die openbaring van God se heerlikheid en wat bedoel dit as ons die Here moet verheerlik?