Verwag ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde — waar die wil van God sal heers

Preekskets

Verwag die nuwe hemel en die nuwe aarde wat God belowe het (:13a). Gehoorsaamheid aan God se wil sal 'n uitstaande eienskap wees van die leefwyse op die nuwe hemel en die nuwe aarde (:13b). Beywer jou daarvoor dat jou lewe nou reeds die kenmerke van die nuwe hemel en aarde sal vertoon (:14).

God laat vaar nie die werke van Sy hande. In die plek van die ou wêreld kom daar 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde. Hierdie nuwe hemel en nuwe aarde sal nie ontstaan deur 'n langsame ontwikkelingsproses nie. Nadat die wêreld waarin ons nou leef, in God se oordeel vergaan het, herskep God die aarde en die hemel. God het reeds in die Ou Testament 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde belowe (Jes. 65:17 & 66:22). Ons verwag dus nie net die verwoesting van die hemel en aarde nie. Ons leef ook in die verwagting van God se herskepping.

‘n Belangrike eienskap van hierdie nuwe hemel en aarde sal wees dat die wil van God sal heers. Letterlik staan hier dat die geregtigheid daar woning sal maak. Daar sal dus nie weer, deur ongehoorsaamheid aan God se wil, verwydering tussen God en mense kom nie.

Mense wat die leefwyse van die spotters voorstaan en navolg, sal nie op die nuwe aarde en die nuwe hemel wees nie. Sulke mense sal saam met die ou aarde en hemel in God se toorn versink. Ons moet ons beywer om nie soos die valse leraars 'n smet en 'n skande (vergelyk 2:14) te wees nie. Hulle moet soos Christus (vergelyk 1 Pt.1:19) vlekkeloos en onberispelik voor God wees. Wanneer hulle hul hiervoor beywer, sal hulle werklik ervaar wat dit inhou dat Christus hulle met God versoen het - hulle sal die ware vrede ervaar.

  • Nuwe hemel en aarde
  • Nuwe mense op aarde
  • Ewige God met nuwe mense op nuwe aarde